Einde van ‘n era.
8 Mei 2022
Hierdie is my heel eerste geplubliseerde blog / journal skrywe, wat nie ‘n “memory copy” is van my Facebook blad af nie. Ek het die geweldige voorreg, om in stilte en in afsondering dit te kan tik, op my laptop, van my oorlede man se familie plaas af.
Sondag was my man se verjaarsdag, die 5de jaar sonder dat ons hom kon bederf. My man se familie en verjaarsdae….. Dis waar my depressie en angs begin het.
Sondag was ook Moedersdag, en my boetie hulle doop hul 2de kind en dogtertjie wat my Ma se ewebeeld is, tydens ons kinderjare, vakansie kerk dominee, se uittree preek.
Ons was laas al 5 kinders saam met my Pa daar in die kerk kort voor lockdown, vir ons Ma se begrafnis. Sy het nog uitgehou vir my boetie se 1ste kind se doop, toe kon sy nog loop, maar ‘n week later het sy bedleênd geraak. Ons is minus my man en my Ma, maar plus 2 kleinkinders en my Pa se vriendin.
Dis seer op seer.
Ek huil die hele kerk diens deur. Herinneringe van ‘n hele leeftyd oorval my. My Ma wat ons kerk toe sleep elke liewe Sondag. Kersfees dienste en Nuwe Jaar middernag feeste. Ons is altyd laat, so ons sit heel voor die Dominee se kansel vakansie tye, daar word stoele ingedra vir ons. Ds Paul weet hy moet wag om te begin, tot ons ingestap het. (My man het dit gehaat dat ons altyd laat was, by sy tuis dorp se kerk is die agterste bank ons plek en ons is halfuur voor die tyd daar, maar later het hy net gelag vir my familie se gewoontes.) Hoe kry jy ook nou 5 kinders betyds klaar vir kerk, met net 2 badkamers.
Ek onthou my Pa in sy diaken pak; my man in sy diaken pak. Ek mis my man se groot warm hand soos ouds, toe my dogter my en haar broer se hande vat tydens die eerste gebed (en elke gebed in ‘n kerk) soos wat ons gesinnetjie se gewoonte maar was. Ek hoor my middel broer se diep stem agter my, sien my oudste broer se onsteltelnis oor ons nie almal bymekaar in een ry sit soos gewoonlik. My dogter maak my attent daarop dat die gesange dieselfde is as op my man se begrafnis. Ons sit ons koppe teen mekaar vir ‘n rukkie.
Dis asof my man sowaar deur die kerk liedjies met sy skurwe hand langs my sit, en sy afgebreekte duim nael soos ouds my gladde duim nael krap, want hy kon maar net nie so lank stil sit nie. Dis juis hoekom hy so baie van Ds Paul se kort en kragtige preke gehou het.
Ek sit op die punt en kyk regs en sien almal huil, my dogter, my sussie, my jongste boetie en my Pa. My ouer broer lyk soos onweer en my middel broer het sy hande vol met sy seuntjie na sy baba sussie ook nou saam in die kerk sit, na ‘n kosbare doop.
Die geweldige besef van finaliteit.
Dis die heel laaste keer wat ons familie in die kerk saam inloop en saam sit, saam met die mees coolste NG Dominee ooit.
Ja Ds Paul, jy was beslis ‘n cool dominee. Wat ‘n voorreg om 15 minuut preke, kort en kragtig met humor te kon hoor. Waarlik ‘n toegewyde Dominee en lewer die mees ongelooflikste uittree preek, wat soos altyd, getrou aan die Heilige Gees voel of dit perfek op toepassing van my eie deurmekaar lewe nou is. Ek hoor later my jongste boetie voel dieselfde oor die preek.
My seun gooi sy deur kollekte by die diens kollekte in. Hy kan nie dit onthou nie, maar aan die einde met die laaste AMEN sing, begin hy breed glimlag en sukkel om sy lag in te hou. Ek blameer my man wat oppperste platjie was, en saam geproes het, as ons toe klein kleutertjie, stout in die kerk of tydens huisbesoek was. Hier waar ek nou tik, om hierdie tafel het ons nog as gesin saam godsdiens gehou, my man lees vooruit in sy Bybel en ons seuntjie mimiek sy woorde uit sy kinder bybel, en dan lag hy vir sy eie verkeerde herhalings. Na my man se dood, het ek tot my bittere spyt met ons seun geraas as hy grappies wou maak. Wat sou die mense dink so kort na sy Pa se dood. Dalk as Ds Paul ons tuis dorp dominee was, was dinge soveel anders. ‘n Man van God met ‘n skerp sin vir humor, wat dan ook genade met ‘n ernstige weduwee Ma het.
Na amper 5 jaar van afsondering, wat al die mans na my man se dood net verdwyn het, is dit swaar om so baie mans in kerk pakke te sien en te onthou hoe dit was toe my man geleef het. Na 5 jaar hang sy klere nog in die kas, 2 keer saamgetrek, eers terug na ons plaas huis en toe na ons dorp huis en ek wonder, as dit dalk eendag vir ons seun pas, gaan my seun dit ooit kerk toe aantrek…
(Kliek op foto vir skakel na opname van preek.)
225 Troues, 469 Dopelinge, 616 Begrafnisse
3 van ons 5 kinders se troues, 4 uit 5 kleinkinders se doop en 1 van 2 begrafnisse vir ons gesin.
Hoe neem mens afskeid so, na alles wat ook nou al gebeur het? Soveel water het nou al in die see geloop.
Na die diens skud ek Ds Paul se hand. Ons groet mekaar en kyk net vir mekaar. Ek wil gesels, maar daar is nog hele gemeente agter my wat met hulle wil gesels. Ek dink nie daar is êrens nog so ‘n kerk so vol. Ek mis dat hy soos gewoonlik opreg vir my komplimenteer:”Maar jy raak dan niks ouer nie!” Dis asof ons beide die gewyde oomblik respekteer en stil terug dink ‘n leeftyd se lief en leed.
Ek groet sy vrou, wat voor die tyd vriendelik met ons gesels het, so doodgewoon. Nie asof hulle twee jaar afgevat het, weens Ds se siekte en nou na twee jaar, sy uittree preek gee. Ook nie asof ons mekaar twee en ‘n half jaar vantevore op my Ma se begrafnis gesien het nie. Watter ongelooflike twee mense!
Ek onthou hoe my Ma by haar 2de handse klere gekry het by haar winkel, om ons werkers te help. Maar die bestes het sy vir ons kinders uitgesoek, en vir my en my man uitgehou. R5 - R50 klere. Ek het in opstand gekom toe, my man het so hard gewerk, en dan moes ons 2de handse klere dra. Nou wens ek met my hele hart ons kon die tyd terug draai, en dat ek weer mode parade vir my Ma kan hou. Of dit nou boks klere op sig was van Tannie Lotsie se Modewinkel, of die NG kerk winkel se 2de handse klere, of die heel laaste keer by Woolworths in George. En dan was ek so ondankbaar….. want trots is ‘n lelike ding. Die sonde wat my eie ek net nie kon laat gaan het nie, want ek het soos ‘n mislukking gevoel.
Nou probeer ek opmaak daarvoor, maar my Ma is nie meer hier om saam klere te koop en aan te pas. Ai Mamma, niks is meer dieselfde sonder jou nie. Ons almal het gesit en huil, want sonder jou, sou ons nie die bevoorregte lewe geken het, wat ons gehad het nie. Gebou op die regte fondament van Jesus en soos ek die dag vantevore by Christian Business Women Connect praatjie gehoor het, ‘n Spreuke 31 vrou.
Ons stop na kerk by jou graf Mamma. Op Moedersdag. Haastig, gejaagd op pad na die doop ete. Mis die kerk se heerlike eetgoed vir die uittree preek geleentheid, en om bekendes te groet. Nie dat ek regtig honger voel of lus vir kos eens is nie. Alles voel eenvoudig verkeerd.
Ons slaap nie eens almal by Mamma se familie strandhuis nie, maar het spoggerige AirBnb Villa. En ek ry die klein eintjie na ons strandhuis om eindelik my kosbare erfstuk te kry. Die pienk Royal Alberts teestel. Dis Mamma, pienk rosies en goud. Vroulik, deftig, duursaam en smaakvol. Tydloos. Ek huil soos ek dit van hul staanplek afvat en inpak.
Dis die laaste keer wat dit daar is / was…
Maandag oggend gaan stap ek op die yskoue strand. Na my man se dood, het ek vir lang ruk op hou stap, en as dit nie vir Herbalife was nie, weet ek nie of ek ooit weer sou begin het nie. Orals sien ek hartjie skulpies en klippies en dit herinner my aan een jaar, met Leef Tydskrif, het hulle so ‘n tema gehad om hart vorms te sien, af te neem en in te stuur.
Ek sien ‘n groot groep jong mense, in ‘n kring op die strand, met ‘n kitaar op die sand. Koffie bekers in die hand en ek raak bly om sulke jong mense so vroeg op die oggend te sien saam kom, ooglopend besig om te bid.
Met die terugloop, breek 2 van hulle weg uit die kring en kom in my rigting gestap. Ek dog hulle stap net, maar hulle kom na my vriendelik en slaan my asem weg:”God het dit op ons hart gesit om te kom vra of ons vir jou kan bid?”
Ek is seker hulle kon die trane nog sien blink, toe ek antwoord, dat ek gebed sal waardeer en juis van plan was om by hulle groep te stop en vra of hulle vir my kan bid. Hulle bid vir my en ek vra toe of ek vir hulle ook kan bid.
Ons gesels bietjie. Hulle is groep sendelinge van Potchefstroom. Die meisie is voltyds in sending en God voorsien getrou vir haar.
Hulle sal nie besef wat dit beteken vir my nie. Ek vertel hulle van my blog wat juis gaan oor DEVINE MOMENTS IN TIME, DEVINE APPOINTMENTS! En hulle getuig dat hulle nou net gebid het vir presies dit, Devine Appointments. WOW!!!
Wat ek hulle nie vertel het nie, is dat my Ma haar hele lewe toegewy het om geld te gee vir sending werk. Nie net vir sendelinge nie, maar sommer oral waar sy gaan ‘n verskil maak en mense probeer ophef.
Na die heilige ontmoeting, gaan ek terug. Ons pak op en vat die bekende pad deur die Langkloof weer terug huis toe. Al weer al stryende in die kar, ek en my kids. Ek kan nie eens meer onthou waaroor nie, maar dis dalk geval van as armoede by die voordeur inkom, dan loop liefde by die agterdeur uit. Ons het mos nou nuwe en betroubare voertuie en mooi geverfde huise, maar dit bars sonder gastehuis besprekings.
Die harde realiteit van die lewe is dat dit aangaan en super vinnig. ‘n Week later, het ek nog nie eens vir Ds Paul of sy vrou weer gekontak nie, soos ek graag wou. Dis ‘n daaglikse stryd ter oorlewing, wat voel na ‘n gejaag na wind.
Maar God!
Hy is in beheer altyd. En Dinsdag aand met kosbare vroue bybelstudie, wat ek nou so wonderbaarlik uit afsondering weer dit waag om in te skakel by ‘n vroue kerk byeenkoms, deel ek die kosbare getuienis en ek hoor God se Gees praat met my. Dieselfde boodskap, maar God praat uniek met elkeen in haar eie unieke omstandighede.
En ek probeer strewe daarna om ook ‘n Spreuke 31 vrou te wees, en net te rus in God, dat ek met niemand hoef te kompeteer nie, maar net myself kan wees, want ek probeer regtig my bes.
Alles gaan OK wees, want God is aan die stuur.
Soos gewoonlik, is daar ‘n tyd vir alles en ons as mense wik, maar God beskik. Al sou die vyeboom dan nie nou bot nie, nogtans sal ons God loof en prys.
Ons het nog steeds so ongelooflik baie om voor dankbaar te wees, so sit dan alles wat jy het in, om die wedloop te voltooi en maak seker dat jy die prys van die Ewige Lewe wen.
In ‘n oogwink is ‘n leeftyd en era verby, koester elke oomblik!
Liefde,
Daisy