Gun die arbeider sy loon.

14 April 2011

Ek sien uit na more oggend bietjie laat slaap. Ek bid HARD dat my man moed kan kry om verlof te vat.
Ek is nie net liggaamlik moeg van gejaag elke dag nie, maar sielsmoeg en uitgehonger vir bietjie wegbreek en ontspanning saam met my man en kinders en familie.

14 April 2021

Geen mens gaan verstaan, as jy nie in dieselfde situasie is nie.

As kind het ek nie besef hoe bevoorreg ek was. Ons ouers waar my Pa as polisieman, en my Ma as verpleegsuster, hul uit hul omstandighede opgewerk het. Harde werk om hul eie besigheid te begin, om ‘n beter lewe vir hul 5 kinders te gee.

Winter vakansies in Durban, gemeng met besigheid daar. Die geweldige voorreg om reeds in S.A. apartheidsjare, ander kultuur mense te leer ken, hulle in ons huis te ontvang en by hulle aan huis te gaan. Die mooi waardes om nie mense oor hul uiterlike te oordeel nie.

September vakansies by tyddeel in Seepunt. Daar plekke te sien en beleef, en stories te hoor van waar ons ouers ontmoet het.

Desember vakansies in die karavaan by Oupa en Ouma by die see. Die voorreg om saam met my Ma se familie, al die Ooms en Tannie’s, niggies en nefies te kuier. Die strand en see te sien en beleef. Inry fliek en uiteet, potjiekos en om tafel te eet saam met Oupa en Ouma.

Toe trou ek na 5 jaar se wag (en nie voor die tyd saambly nie) met ‘n werk verslaafde man. Dis eers na ons wittebrood, wat die harde realiteit van my man se werksure, ‘n geweldige aanpassing was. Ek het geen idee gehad waarvoor ek my inlaat nie. Ons kry finanseel so swaar op ‘n verafgeleë plaas. (Maar party mense dink mos om huisvrou op ‘n plaas te wees, is een vakansie!)

My man kies uit die beste van bedoelings om eerder sy verlof geld te vat.

Maar nog steeds kon ons nooit regtig ‘n vakansie bekostig nie. Een keer voor ons getrou het, vir ‘n lang naweek saam na Port Alfred gegaan as jong verliefdes. Daar het ek van ‘n perd afgeval op strand rit, en het ‘n seer stuitjie ons naweek bederf en vir komiese oomblikke herinnering gesorg.

Toe een week wittebrood na die enigste familie van my man se oorlede Pa, se strandhuis in Kleinmond. Dis waar ons verskille al klaar begin skaaf het, tussen die verdwaal op grond paaie na Kleinmond en besluite oor watter beddegoed vir ons kamer tuis, en om beide my ouers en sy Ma se kerk basare by te woon, een dag uitmekaar, op pad terug van ons wittebrood af.

Ek moet later swaar my trots sluk om geld by my Ma te kry, net om ‘n naweek vir hulle te gaan kuier Desember vakansies by die see, waar ons al die jare gewoonlik bymekaar kom.

Die eerste vakansie, na hele paar jaar getroud, wat ons wel met ons kinders in goedkoop motel inboek by Sedgefield; die eerste oggend wat ons wakker word, het my man se baas ‘n sterfgeval in die familie en hy moet inderhaas terug gaan. Ons moet George toe toe ry om ons klein kindertjies senuagtig vir eerste keer by Oupa en Ouma los.

My oormoeg man vat weer die pad terug Tsitsikamma toe, en doen die onmenslike in 24 uur, sodat ons weer die volgende oggend by my ouers en ons kinders in die kerk kan wees.

Na ‘n trok vasgesit het in die vroeë oggend ure in die reën en modder en hy voor die trok uitgeloop het in die reën, om die pad met flitslig te wys, dat die trok kan meel aflaai, jaag ons om weer by ons kids te kom, en as gesin saam met my ouers in ons familie vakansie kerk te sit.

My man is nooit vergoed vir sy ekstra petrol geld, vir die dag en naweek wat opgemors is nie. Ons harte was net so seer saam oor ‘n baie goeie man se tragiese ongeluk en afsterwe toe. Iemand wat plat op die aarde was en tyd gehad het vir gesels met die melkplaasbestuur se vrou ook.

Dis maar een insident.

Ek is ‘n werkgewer se dogter, en is ongelukkig in die situasie waar ek die werknemer (‘n werkverslaafde) se vrou was.

My lojaliteit was by my man, maar dit was moeilik om begrip te hê vir sy lojaliteit aan sy werkgewer, terwyl hy deur vele ander mense gekontak is met beter werksaanbiedinge. Dit was oorsaak van menige stryery, want ons het in ou huis gebly en ‘n ander werk sou beter huis en beter omstandighede ten opsigte van skool beteken vir ons kids. Ons is nooit vergoed vir die feit dat ons op my man se eie grond bly, ons eie krag en versekering. Voordele wat ingesluit was, by ander poste.

Maar my man het eers baie jare later aan my verduidelik, dat hy naby sy weduwee Ma wou bly, en dat hy baie spyt was oor hy nie vroeër geskuif het vir beter werksgeleenthede.

Ek het genadiglik later die voorreg gehad om vir werkgewers te werk, wat baie goedhartig, vrygewig en konsiderend is. So ek ken en weet gelukkig, dat dit moontlik is om hardwerkend te wees en gewaardeer en goed behandel te word.

As Christen vrou, het ek misrabel gefaal in die begin jare van my huwelik en het dinge baie verkeerd hanteer. Maar die skok van die omstandighede waarin ek getrou het, was traumaties.Dit was eers jare later, wat ek ons lot aanvaar het en volkome “submit” het aan my man, dat hy ‘n beter werk gekry het.

“LET GO & LET GOD!”

Ek kon net nie meer nie, en het gebreek naby senuwee ineenstorting. Die druk was net te veel. Almal het my beskuldig ek sit op my man se kop, maar hy het so hard en sulke lang ure werk, ek MOES alles anders doen.

Vir ‘n bedorwe brokkie, was die druk en skok net te veel, te same met die toenemende druk van ons oudste kind wat skool toe begin gaan het. Ek wens ek kon sterker wees, maar om uit omstandighede van vryheid, na onderdrukking en eensaamheid te gaan, verder geketting deur finansiele swaarkry…dit was vernederend vir my en ‘n bitter pil om te sluk, veral wanneer mense goed gesê het soos:”Jy het jou bed opgemaak, slaap dan nou daarop.”

Ek het nie verstaan nie, ek het net verlief geraak en gebid en geluister by God of dit die regte man vir my is. En toe voel dit asof ek gestraf is oor ek gehoorsaam was aan God…. Maar swaar kry kweek volharding, en as ek terug kyk, was daar geweldige beskerming om arm te wees en afgesonder op ‘n eensame plaas.

Toe ons later “accidental homescholers” word, was dit beste ding ooit vir ons huwelik en gesin. My grootste spyt was dat ons nie meer saam met my man in die bakkie op die plaas rondgery het nie.

Die 2de werk ooit wat my man toe in gesterf het, was hy op die hande gedra en baie beter vergoed en gereeld op die skouer geklop en bewonder vir sy werks etiket.

Ons was nie meer onsigbaar nie. Mense het eindelik ook besef ek is sy vrou. Ons kon vir ‘n kort tydjie vir ons kinders ‘n beter kwaliteit lewe gee.

Ek sal nooit vergeet, 4 maande na my man daar begin werk het, woon sy nuwe werkgewer en vrou ons kinderpartytjie by. In die kombuis tussen klomp vrouens wat skottelgoed was, bring hy nederig sy breekgoed kombuis toe en vra uit hoe gaan dit. Voor al die dames, prys hy my man so mooi en noem hoe aanwins my man vir hul maatskappy is. Dit doen iets aan die vrou wat die huis skoonmaak, haar man se werksklere was en sy kos inpak werk toe, en baie min hom sien. My man het sy hande stukkend gewerk daar, maar elke aand so gelukkig tuis gekom van al die nuwe goed wat hy daar geleer het.

Die laaste jaar by sy 2de werk, is jaarlikse vakansie verlof vir hom geweier daar…..agv ander bestuurder wie se vrou swanger was. Dis moontlik dat die rus van daardie vakansie die verskil tussen lewe en dood vir hom kon wees. Maar dan weer, hy het altyd gesê, as dit jou tyd is, is dit jou tyd. En ek het berusting dat God in beheer is oor wie se tyd is dan wanneer.

Niks kan hom nou terug bring nie, maar dit sou lekkerder gewees het, om die herinneringe van net nog ‘n vakansie saam met hom te kon hê, veral vir ons kinders. Ons het net die voorreg van een regte vakansie saam oms kinders Kaap toe geken. My man se 2de werk het finansiele voorspoed gebring, en die laaste week wat hy geleef het, het hy gehoor hy sou bevorder word. Ons was op die punt om sorgvrye en mooi lewe vir ons self en ons kinders te kon gee. Die plan was om sou gou moontlik weer terug te gaan en vir ons self te werk.

Maar die mens wik, en God beskik.

Mense by die werk, het meer van my man gesien as ek en my kinders, of my man se Ma en familie.

As jy ‘n werkgewer is, gun asseblief jou werkers gesinslewe. As jy ‘n werknemer is, jy is geregtig op jou jaarlikse verlof.

Geen geld gaan ooit weer jou tyd kan terug koop nie. Vir my was dit aaklig om na my man se dood, daardie laaste vakansie verlof geld te vat…..

Dit het soos bloedgeld gevoel, maar ons het nie ‘n keuse toe gehad nie. Die skok toe, verander die mens wat ek werklik was.


14 April 2022

Die afgelope Somer het iets my gedryf, en ek het so hard gewerk aan ons huis op die plaas, wat nou ‘n gastehuis is.

Dit was iets buite myself. Dit voel vir my asof my tyd min raak en ek druk myself om beide huise geverf en netjies te kry, dat die kinders nie sal sukkel.

Ons het ‘n klomp uitdagings gekry en ek is nou weer op die punt, waar ek besef:

LET GO & LET GOD!

Hoe nader ek aan my man se 5 jaar doodsherdenking kom, na 2 jaar van my Ma se siekbed en afsterwe plus 2 jaar lockdown trauma, besef ek, ek moet hom laat gaan. Dit maak my by tye angstig en ek voel soms soos ‘n wilde dier, vasgekeer in ‘n hok. Smagtend na vryheid om oor al die seer te kan kom. Maar dit werk nie so nie, jy het geen beheer oor wanneer herinneringe opduik en jy van lag na huil en weer lag kan gaan.

Ek het 5 jaar gewag voor ek met hom trou en nou het ek amper 5 jaar gewag na sy dood… dalk onbewustelik. Vasgevang in “denial” oor so baie goed, om myself van seerkry te beskerm, maar in die proses stoot ons goedbedoelende mense van ons af weg en maak hulle seer.

Ek is moeg. Ek wens ek en my kids kon op vakansie gegaan het, maar selfs al was daar nou tyd en geld, emosioneel is dit seer. Fisies is ek moeg van bestuur en ingestel wees om Pa & Ma te wees.

Nog 5 jaar om uit te hou tot waar ons seun ook klaar is met skool, en ek weet nie of ek dit gaan maak nie.

Maar dankie tog, vir die naderende Herfs en Winter om bietjie te rus en vir soveel meer genade, as wat ek voel ek verdien en waardig is.

Na baie gesukkel met ons stukkende, geliefde ou Ford, het ons nou 2 betroubare Toyotas. Die vrees vir winter en nat paaie, is nie meer so erg nie.


Al is ek moeg en begin nou weer ‘n nuwe berg klim, ek dink ek gaan dit maak vir die volgende 5 jaar, as die Vader my spaar, tot waar my seun groot genoeg is om hopelik my las ligter kan maak.


Ek besef nog nie volkome dat ek ‘n weduwee is nie. Ek probeer met alles in my vasklou daaraan hoe dinge was, om vir my kinders ‘n sorgvry lewe te gee, maar die realiteit is besig om my in te haal en hard te slaan.

God is my perfekte man in die hemel nou, maar ek is nog nie perfek onderdanig wanneer ek Sy stem hoor nie. Dis nou nog nie 7 sakke sout nie, maar amper 5 jaar van genade wat God so mooi sagkuns, soveel guns aan my betoon, om geleidelik te laat treur oor my mooi aardse man. Die man wat Hy tydelik hier op aarde vir my gegee het, om my te beskerm en te versorg, Pa van 2 amazing kinders te wees en kosbare erfenis na te laat.

Hy was nie perfek nie, maar hy was God se keuse vir my en ons besonderse, spesiale kinders.

Daar is verseker ‘n groter plan van God, met die storie van ons lewens.


Liefde,

Daisy

PS: Jammer vir spelfoute hier en daar.

Die doel van die blog is nie om perfek of mooi te wees nie, maar “REAL”. Rou uit my hart wat nog al die jare op my mou sit.

Ek het almal vergewe van ons verlede. Ek is jammer as iemand wat nou betrokke was, hier lees.

Dis alles in die verlede. Alles is nou OK en Bolla het altyd die ander wang gedraai en onmiddelik vergewe.

Ek hoop almal kan my vergewe vir die mens wat ek was.

Previous
Previous

Godly Setup

Next
Next

A Dog as answer to prayer.